20 Apr 2018
Meer as `n dekade van Bok van Blerk en dis net die begin! Kan jy onthou waar jy was of waarmee jy besig was toe jy die eerste keer Bok van Blerk se De La Rey oor die radio hoor speel het? Moeilik om te glo, maar ons praat van 12 jaar terug, daardie oomblik toe die klank van Afrikaanse musiek verfris is en mense laat regop sit het.
Of jy nou kan onthou presies waar jy was 12 jaar terug toe jy die naam Bok van Blerk die eerste keer gehoor het of nie, een ding is `n feit, as Afrikaner het jou bors so bietjie geswel van trots en jou hart so bietjie warmer geklop. Bok is baie beskeie oor die eer en sal altyd erkenning gee aan sy aanhangers, die mense wat hom ondersteun, wat sy musiek koop en by sy konserte opdaag, die mense wat hom gebring het Van De La Rey Tot Nou.